(of hoe ’n Afrikaner geleer het dat daar meer in ’n braai kan sit dan pap en wors!)
Soms laat die slegte weer ons tog toe om hier in Vlaandere, (meer spesifiek in Herdersem, op Domein De Kluizen, die wynbedryf van my goeie vriend Herman Troch) om op ’n somersdag, wyn te proe. En dan nog, wyn uit Vlaandere self (julle sal merk dat ek meesal praat van Vlaandere, en nie van België nie, daar is geen politieke motivering daarvoor nie, nee, dit is alleen omdat ek op my ‘klavier’, die ding met al die letters ens, waarmee ek my dingetjies uittik, die ‘keyboard’ op syn Engels dan!-twee tikbewegings moet uitvoer om die umlaut te kry op die woord ‘België’ (sien daar is dit alweer, Alt 137, wat ek moet tik om die umlaut te kry!) en daar is geen umlaut in Vlaandere nie sien).
In elk geval, Herman het ons uitgenooi om sy nuutste wyne te proe, selfs ’n vonkelwyn, met die onwaarskynlike naam van ‘Zjul’ - wat ons onvermydelik lei na die internasionale bekende Aalsterse Karnaval (as werelderfgoed erken deur UNESCO in 2010, no less!) om die ietwat vreemde naam te verduidelik. Herman was vroeër ’n baie bedrywige lid gewees van een van die karnavalsgroepe van die Aalsterse karnaval- ek het ’n skakel hieronde geplaas na ’n lys van die groepe met sulke fantastiese name as:
Allei-Joep De Droeve Apostelen De Loizemaanen De Popollekes De Sjattrellen De Steijnzoel’n De Toerenbiejoekes De Zwiejtollekes Krejeis Lossendeirdeveirdeirdeir
|
(http://www.aalst.be/default.asp?siteid=2&rubriekid=1047&url=%2Fcarnaval%2Fgroepen%2Fdefault%2Easp )
Wat jy dadelik opmerk uit die name vertel ook die verhaal agter die Karanaval: daar word veral gespot met politiek, met alle gesagsdraers, en mense met ‘n ‘dikke nek’, dws mense met ’n te hoë dunk van hulleself! En dan word daar ook baie (selfs heel veel) bier weggekap tydens die 3 daagse karnaval. Maar, om terug te keer tot ons vonkelwyn ‘Zjul’, dit is Herman se karnavalsnaam. En dit word op so ’n rare manier gespel omdat dit in Aalsters is, die dialek-taal van Aalst. Ter inligting, een van die mooiste kultuur-eienskappe van Vlaandere is juis dat alle dorpe hulle eie, apart-herkenbare, dialek gebruik. Dit is so dat mens van een dorp maar 10 km moet ry om ’n nuwe dialek te hoor, fantasties! En wat nog mooier is, hulle praat graag hulle eie dialek, en is trots daarop. Natuurlik gebruik hulle AN (algemene Nederlands) op skool en as lingua franca- dit is miskien ’n bindende faktor, maar dit is die dialekte wat hulle so parogiaal hou en spesiaals maak.
Elke jaar hou Herman ’n bbq (hulle wil maar nie die beter woord: ‘braai’ hier gebruik nie, hulle verkies die Engelse woord, maar nou ja, dis ook weer ’n ander verhaal, ’n ander stryd wat ek hier tevergeefs veg, nl om die Vlaminge te kry om nie sommer voor die voet Engelse woorde in te voer in hulle taal nie. Ek het minder probleme dat hulle bv ‘computer’ gebruik, maar is dit werklik nodig om ‘kids’ ipv kinderen te gebruik, of soos ek gister gehoor het die plaaslike Minister van Buitelandse Sake, wat op die radio verklaar dat België sal ‘insisteer’ dat Libië al sy verdragte sal nakom. Vieslik!) om mense wat hom elke jaar help met die oes te bedank vir hulle hulp. En dit is wat ons laas Sondag gedoen het by Herman. En ek, ek staan daar rustig langs Sofie, ’n glas Kerner te proe en ek dink by myself, lekker asiditeit, mooi balans, en ek bekyk al die vriende daar, almal onbekend vir Sofie en ek, maar dis ’n vriendelike lot dié, ’n hele tapesserie van dialekte (meesal Aalsters natuurlik want Herdershem is ’n deel van Aalst) en beroepe, maar almal ‘Herman helpers’. En toe val my oog op die man wat besig is met ’n groot braai-toestel, so ’n Weber-ding. En natuurlik wil ek gaan kyk en dan veral my ‘superieure’ (so dag ek in elk geval toe!) Suid-Afrikaanse braai-kennis aan hom gaan opdring, hom ’n keer goed gaan vertel hoe dit alles moet gebeur en gedoen word. Gelukkig vir my het ek eers alles goed bekyk en stil gebly anders het ek my naam, soos my oom Sammie sou sê, mooi gat gemaak, want die man het baie meer expertise van braai gehad dan ek ooit sou kon droom (mens onderskat die Vlaminge maklik want hulle is so beskeie en nooit windgat oor hulle prestasies nie). Ek sal nie eers uitwei oor hoe goed sy braaitegnieke was nie, maar wil wel vertel wat hulle ons aangebied het: eers het ons begin met Franse foie gras op toast, dan was daar behalwe allerhande soorte souse en slaaie en dinge, as voorgereg, lekker hoenderboutjies, gebraaide salm uit Noorweë, gevolg deur ‘spare ribs’ wat gemarineer was in wyn, en dan eendebors! Het nie gedink mens kan eendebors op ’n braai doe nie, but we live and learn seker hê.
Ek sal in elk geval in die toekoms nooit weer ’n woord sê oor braai, of selfs bbq, teenoor ’n Vlaming nie!
No comments:
Post a Comment