Thursday 22 September 2011

Groete aan Mannetjies Roux- 'n herbesoek


Het vandag, per toeval eintlik, weer geluister na Lauirka Rauch se “Mannetjies Roux”, http://www.youtube.com/watch?v=HoJfwf0xdNg en die kommentare gelees. Ek was tog verbaas om te sien dat my kommentaar van meer dan 'n jaar gelede die meeste ondersteuning gekry het- en ek was bly om te sien dat dit nie net my gevoelens was oor Afrikanerwees, wat in die lied so treffend saamgevat is nie, maar dat my skamele woordjies ook dié was van ander mense.

Ek wil een van die klaarblyklik jongere mense tog net een ding vertel: die droogte, die ou kloppende diesel, die verlange na reën, die plaasarmoede, is nie net verskynsels van 30 jaar gelede nie, nee, eerstens speel dieselfde feitelike taferele vandag nog steeds af in ons land, in die Karoo, Wes-Transvaal of die Vrystaat, en tweedens moet die lied waarskynlik breër gesien word, metafories, dit verwys eerder na nie-tasbare probleme op die plase van ons land dan na egte droogtes.

En in die lied het ek weer seker die mees tipiese Afrikaanse woord gehoor: “ja-nee”! Was daar ooit 'n woord wat die siel van die Afrikaner mooier kon saamvat- 'n soort van instemming met wat jy teenoor hom gesê het, maar dan tog met die beleefde terughoudenheid dat hy tog maar uiteiendelik sy eie mening het oor die onderwerp waaroor julle gesels het.

Eens het ons 'n land gehad in Afrika, met 'n kloppende hart, eens het die riviere in ons gevloei en was die bosveldse sonsondergange mooi in ons oë te sien. Nou sit ons in koue, verre plekke, met alleen die wind as ons maat en verre blikke wat probeer om tot daar, daar ver, tot in ons jeug terug te kyk.Maar ek weet dat my verlanges my tog darem 'n bietjie warm sal hou.
Was daar ooit 'n meer tiperende Afrikaanse lied gewees dan hierdie een?
kochvlierzele 1 year ago 20

22 September 2011

No comments:

Post a Comment