Dis nie dat ek as mede-vlugteling (ek woon 10 jaar al in Vlaanderen, naby Gent) jou artiekel in die Burger vandag ('..land van melk en moord..') per se verstaan het nie, en dan, 'verstaan' is dan ook weer die verkeerde woord, te veel regsfilisofies-agtig.
Dis ook nie alleen omdat ek in die foodie/slow food-wereld (wyneducatie) verzuil (seker 'n Nederlandse woord, maar tog so beskrywend he !?) geraak het nie, nee dis eerder te make met 'n germaanse heimwee en weltschmerz wat vasgeknewel is in meeste Afrikaners van ons ouderdom. Iets wat die Vlaminge ook goed ken, dink maar aan Hugo Claus. Alles wat mooi was, bly mooi, vir altyd.
En dan die belangrikste: die feit dat Afrika, of altans daardie spesiale vrouensdeel daarvan, mens nimmerste nooit sal vrylaat, die bloureen, die weerlig, die stowwerige donkiepaaie, hou ons ten einde dagen aan haar bors op 'n tedere manier vas, maar let wel, vas!
Dit is dus in hierdie konteks dat jou beskrywing van daardie kafee in die Langkloof, en die geure en sfeer wat gekreeer is, my so geruk het vanuit my: hier-sit-ek-lekker-veilig-in-boring Europa om met drakenvlerke heel snel weer te land in die Klein Karoo. Om te besef, nie te weet, dat 'n deel van my, my enigste sakrale deel, steeds in die Karoo is/was.
Dankie daarvoor.
En moenie ophou skryf nie, daar sal 'n tyd kom waarin dit chic en ubercool sal wees om die tye van ons jeug weer in herinnering te neem.
En moenie ophou skryf nie, daar sal 'n tyd kom waarin dit chic en ubercool sal wees om die tye van ons jeug weer in herinnering te neem.
en stuur tog maar weer groete aan Mannetjies Roux,
Derek Koch
Derek Koch
17maart 2009
Terug na die land van melk en moorde
EBEN VENTER 13/03/2009 04:24:28 PM - (SA)
Die Burger
Om by die huis te kom, moet ek deur die Langkloof en oor die Swartberge ry. Daar is appelsmouse langs die pad wat melerige Jonathans reg voor jou karruit indruk en teen die kloof se hange rooi en wit proteakelke, bitterlik mooi. Die lug is ’n silwerblou en die son is warm en soet en heldergeel. Ek trek af by ’n kafee in Uniondale en stap binne om ’n bottel water te koop, maar toe ek binne is, besluit ek op ’n Fanta.
Die kafee – ek gaan nie sy naam noem nie, anders murmureer die eienaars net weer – ruik na daardie mini-pakkies Surf wat pas uit ’n kartonboks op die
rakke gepak is, na bruin brood en wit brood in dun plastieksakkies en na die drie skywe polonie en een snysel hopeloos te geel cheddarkaas wat ’n man in ’n blou overall vir sy middagete kom koop, en na die roserige deodorant van die jong, tammerige vrou wat jou kleingeld in jou handpalm uitkeer, en na die trossie Calitzdorpse hanepoot in ’n piering wat net daar onder haar hand lê.
Ek hang so ’n bietjie rond: Daar kom ’n blou polisieman in en ’n gekreukelde antie met drie kinders en nog een op die heup en Duitse rooiwang-toeriste en twee Indiërmans, reisende verkoopsmanne, wat Cokes en ’n pakkie Stuyvesant kom koop, en ’n boer met ’n kakiehemp en ’n kollie wat buite op sy bakkie wag en twee seuns wat ’n Will Smith-DVD kom haal en nog baie ander soorte mense wat almal op presies dieselfde manier deur die vrou agter die toonbank bedien word.
En oor die nie-versteekte luidsprekers ’n liedjie wat ek al lankal wou vergeet het: “Ha ha said the clown.”
Dit maak nie saak of jy al baie gereis of jou hele lewe lank in dieselfde dorp gewoon het nie: Jy weet sommer dat dié soort kafee net in Suid-Afrika bestaan. En op haar tydsame, net-verdraagsame manier het die jong, tammerige vrou haar eie, inklusiewe mardi gras geskep in daardie kafee wat heel waarskynlik nie eens aan haar behoort nie.
Ek gaan staan op die stoep en proe die nagemaakte lemoensmaak van die Fanta en die borreltjies, sieksoet, ook nog by en ek bevind myself in ’n ander, tydlose wêreld as die een waarvandaan ek nou net kom.
Die kafee met sy kafee-reuke en sy kafee-beligting en klanke en smake en voorrade – blykbaar het niks daarvan oor die jare verander nie. En so verwelkom die kafee jou en ook weer nie, want oorvriendelik is hy nie, daarvoor is hy te lank in die land.
Die gruwelland wat Breytenbach ver verby moedeloos maak, die verkragtings en kapings en herhaaldelike huisinbrake en OTM’s wat opgeblaas word – ware stories waarop jou mense en vriende jou trakteer kort nadat jy aangekom het; wel, natuurlik kan dit nie weggepraat of goed gemaak word deur sentimentaliteit oor of idealisering van ’n plattelandse kafee nie.
Maar ek weet nie watter ander lewensvatbare manier daar bestaan om sonder sinisme in Suid-Afrika voort te lewe nie.
Dus: stap Fanta in die hand uit op die stofstoep van die kafee en onthou maar: oor daardie ruggens van die Swartberge begin die Groot Karoo, asvaal en gedaan van oudgeid.
Daar bly mense so lank as ’n mens kan onthou en dit is ook joune, maak nie saak wat daar gesê word nie. En daar mag jy gaan áánlewe.
No comments:
Post a Comment